Thursday, 1 December 2011

Amerikaanse politiek: Suid-Afrikaners neem notisie

(TRANSLATED VERSION OF AN ENGLISH ARTICLE THAT I HAVE POSTED PREVIOUSLY)

Dit blyk ‘n algemene houding te wees onder meeste Suid-Afrikaners: Amerikaanse politiek is ‘n buitelandse, volksvreemde konsep wat ons as Suid-Afrikaners nie in die minste interesseer nie.  Sommige stel dit reguit: “Ek weet nie, en ek gee nie om nie.”  Toegegee, Amerikaanse politiek is tog presies dit; politieke kwessies in ‘n land wat letterlik aan die ander kant van die aardbol is.  Maar wat meeste mense miskyk, is dat elke politieke besluit en gebeurtenis in the Verenigde State ‘n verreikende rippel-effek het: op die wêreld as ‘n geheel, en op Suid-Afrika self.

Van spesiale belang is die buitelandse beleid van die Withuis.  U sal vind dat die Demokrate en Republikeine uiters verskillende buitelandse beleide en manifeste het.  Die een wat ons die meeste raak is hulle beleid wat handel met die Afrika kontinent.  Hoe reageer hulle op onstabiliteit in Afrika?  Wat het hulle ingedagte vir skuldvergewing en hulppakkette vir ontwikkelende lande?  Aan die einde van die dag beinvloed al hierdie kwessies Suid-Afrika self.  Nader aan die huis: hoe beskou die VSA Suid-Afrika se onlangse vorming van die sterk bande met China?  Hoe kan dit handel beinvloed tussen die VSA en Suid-Afrika, indien enigsens?

Nog ‘n baie belangrike faktor is die verhoudings tussen die VSA en lande in die Midde-Ooste.  Afgesien van vrede en stabiliteit in die area (wat sodoende vrede en stabiliteit in die res van die wêreld direk beinvloed), moet mens opweeg hoe verskeie beleide en aksies ekonomiese faktore kan beinvloed, soos byvoorbeeld oliepryse.  Dink u steeds dat Amerikaanse politiek niks met ons as Suid-Afrikaners te doen het nie?  Wat van petrolpryse?  Ons voel dit definitief aan ons sak op ‘n daaglikse basis, en dit hou direk verband met wat ookal in die olie-produserende lande aangaan op die oomblik.

Maar ons kan ook kyk na die Amerikaanse ekonomiese beleid.  Hoe beinvloed die Amerikaanse regering se ekonomiese plan die welstand en uitgee-gewoontes van die gemiddelde Amerikaner?  Hoe beinvloed dit Amerikaanse werkskepping?  U kan wel vra hoe die bogenoemde ons in Suid-Afrika raak.  Om ‘n voorbeeld te gee:  as die gemiddelde Amerikaner nie kan bekostig om items te koop wat vanaf Suid-Afrika ingevoer is nie, of items wat geproduseer word met Suid-Afrikanse materiale, beinvloed dit baie beslis die Suid-Afrikaanse ekonomie.  Om die beurt raak dit ons uitvoermaatskappye en hulle werknemers, en sodoende hulle welstand en uitgee-gewoontes.  Sien u hoe dit ‘n eindelose sirkel is?

Waarop dit alles neerkom, is eenvoudig:  dinge wat vir ons as “ver weg en onbelangrik” voorkom, affekteer ons direk.

Vanuit ‘n ander oogpunt, kan ons ook baie leer by die Amerikaanse politiek.  Die VSA het ‘n volwasse en lang-bestaande demokrasie, en ‘n baie komplekse politieke stelsel.  Hulle het n presidensiële stelsel, waar ons n parlementêre stelsel het (Suid-Afrika het n twee-kamer parlementêre stelsel, wat bestaan uit die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies).  Maar baie van die konsepte en praktyke is dieselfde regoor altwee stelsels, en heel bruikbaar in ander regerings.  My persoonlike gunsteling is die “filibuster”, wat letterlik beteken om ‘n wet “weg te praat”.  Wanneer ‘n kontroversiële wetsontwerp gedebatteer word in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, kan ‘n verteenwoordiger ‘n toespraak maak sonder enige tydsbeperking en sodoende die sessie vir ure ophou.  Dit kan aangevul word met punte van orde, reaksies, vrae, antwoorde, en dies meer – wat die Huis skedule (en sodoende die stemproses) omver werp.  Dit mag dalk voorkom as ‘n skelm taktiek, maar dit kan baie handig wees.  Mens dink veral aan ons eie parlementêre debat oor die omstrede wetsontwerp vir die beskerming van staatsinligting.  Ja, sommige mense kan redeneer dat dit net die onvermydelike sou uitstel, maar dit sou wel ons opposisie-partye waardevolle tyd gee om ander wetlike roetes te ondersoek.

Nou is ‘n goeie tyd om geinteresseerd te wees in Amerikaanse politiek.  President Obama het, soos waargeneem op 27 November, ‘n goedkeuringspersentasie van 44%.  As mens in ag neem dat hy sy presidensiële termyn begin het met ‘n goedkeuringspersentasie van 65%, behoort dit ‘n teken te wees dat ‘n baie interessante stemwerwingsproses voorlê vir 2012 (die Amerikaanse presidensiële verkiesing vind plaas gedurende November 2012).  Om ‘n basiese idee te gee van hoe die Amerikaanse verkiesingsproses werk:  elke party het kandidate wat probeer om die party se presidensiële kandidaat te wees tydens die November-verkiesing.  Om vas te stel wie die party se kandidaat sal wees, word staat “primaries” en “caucuses”* gehou aan die begin van die verkiesingsjaar.  Afhangende van die betrokke staat se verkiesingswette, kan geregistreerde kiesers vir 'n kandidaat stem in die staat se “primary” of “caucus”.  Elke staat het ‘n vasgestelde aantal verteenwoordigers wat vir die wenner van die “primary/caucus” stem in die party se nasionale konferensie, wat plaasvind in Junie of Julie.  Die Demokrate en Republikeine het elk hul eie nasionale konferensie, waar die finale party-kandidaat verkies en aangekondig word.

Daar is ‘n paar dinge wat mens kan opweeg in die opkomende Amerikaanse verkiesing:

1) President Obama is die sittende president.  Geskiedenis wys dat die sittende president ‘n voordeel het in meeste verkiesings.

2) Ons moet noukeurig kyk na die Republikeinse kandidate, en hoe hulle vaar in die “primaries/caucuses”.  Die Republikeine het in 2008 ‘n fout begaan deur John McCain as presidentskandidaat te kies, en hy het op sy beurt nog ‘n groter fout begaan deur Sarah Palin as sy adjunk te kies.

3) En laastens moet ons aandag gee aan die buitelandse en ekonomiese beleide van die kandidate, en in ag neem hoe dit ons as Suid-Afrikaners kan beinvloed.

Kom ons kyk hoe dit alles verloop.  Die “primaries” begin 3 Januarie met die Iowa “caucus” en eindig 26 Junie met die Utah “primary”.

Indien u belangstel om te sien hoe die Amerikaanse verkiesingsproses verloop deur die volgende jaar, maar nie tyd het om die nuus te probeer opspoor op buitelandse nuus-netwerke nie, kan u my volg op Twitter, waar ek opsommende bywerkings sal pos soos dit plaasvind.

Volg my op Twitter: @ReanOpperman


* Ek het nie die woorde "primary" en "caucus" in Afrikaans vertaal nie, aangesien dit Amerikaanse konsepte is waarvan die betekenis meerendeels wegval sodra dit vertaal word.

No comments:

Post a Comment